Ek hoop gereeld vrugte eet word later tweede natuur, soos met positiewe denke.
Vrugte deur die dag is goed vir mens, of so hoor ek. Maar vrugte moet hulself nog aan my bewys.
Ek kan geen verskil in my gemoed of lyf voel nadat ek vrugte geëet het nie – behalwe vir die nasmaak.
Biltong of sjokolade is baie lekkerder as bome se sappige padkos, en sit dadelik ‘n glimlag op my gesig.
Vrugte raak soms lank in die tand. Ek het begin by piesangs, maar moes dit later afwurg.
Naartjies is lekker, mits dit in seisoen is. Ek weet appels hou die dokter weg en jy kan jou tande daarmee borsel,
maar later wil jou kakebeen ook net nie meer saamwerk nie.
Daar is ‘n ou by die werk wat elke oggend ‘n pynappel in die kombuis slag.
Hy weet als van pynappels af en klaarblyklik ook van ander dinge.
Na hy die gemors skoon gemaak het, neem hy die bord vol mooi gerangskikte pynappel wiggies terug na sy tafel toe.
Hy kan nie uitgepraat raak oor die voordele van pynappels en ander vrugte nie.
Ek kan nie help om dit effens primitief te vind nie.
Ek kry prentjies in my kop van hy wat in ‘n oerwoud grootgeword het en elke oggend vrugte gaan soek het – hy het nie geweet van sjokolade of biltong nie.