Dis nou 2 jaar sedert ek in die UAE begin werk het en ek kry nog steeds daai kielie-gevoel so op my maag se lekkerkry kolletjie as ek hier in die vreemde by ‘n winkel inloop en ‘n Suid-Afrikaanse produk sien. Soms is dit so erg, ek is seker ek kry daai skaapagtige grin op my bakkies wat mens gewoonlik op ‘n man se gesig sien as hy onverwags ‘n mooi vrou met ‘n kort rokkie sien. Dit maak verlangens wakker wat grens aan wellus. Nie die mooi vrou nie, die SA produkte nou. Toe dink ek: ek wil daaroor blog en vir julle wys wat dit is wat gehelp het om my tyd hier draagliker te maak.
Ek moet egter bieg: Ek het nie kans gesien om self met ‘n kamera die dorp in te vaar en soos ‘n verliefde skoolseun met sterretjies in sy oë fototjies te neem van alledaagse goedjies nie. Gelukkig kom Mev. Rooiwyn tot my redding. En nou skuld ek haar, want blykbaar het sommige mense hierdie lawwe vrou, wat fotos neem van blatjang op ‘n winkelrak, snaaks aangekyk. Soveel dat sy op ‘n stadium selfs ‘n haastige verduideliking uitgestotter het teenoor iemand: kwansuis was die fotos ter wille van ‘n skoolprojek vir klein Rooikoeldrank Junior wat nou in Gr 9 is. Hehe! So hier is die ou goedjies wat vir die Rooiwyn familie soveel plesier verskaf het hier in Sandland:
Watter Suid-Afrikaner kan dan nou sonner Mrs. Balls?
Lacnor se gat man! Ons Boere drink Ceres!
En om ‘n afrikaanse woord op ‘n produk te lees gee jou ‘n warm gloed wat deur jou lyf spoel. Veral as daai woord die letters P A P bevat. En lat een bliksem nou vir my lag oor ek hieroor kan lieries raak!
As die volgende produk ‘n plakker op het wat sê: Karoo Boerewors, voel jy asof jy in die hemel is! Jy vergeet amper jy’s in die vreemde. Dis ook nie ongewoon om dan die vreemde vrou langs jou te hoor Afrikaans praat met haar kinders nie. Dis hier waar jy haar sommer wil soengroet asof dit familie vanaf die stad is wat kom kuier het.
As jy dan nog lekker Robertson’s Steak en Tjops kry (al moet jy dit op New Zealand Lambtjops gooi), raak jou inkopie ervaring amper orgasmies. (En vee nou daai grins van julle gesigte af! Hierdie is ernstige sake!) Die Aromat is gewild en mens moet maar alles op die rak vat as dit in voorraad is, want volgenne keer is daar nie.
Die nodige rugby bykossies is darem ook beskikbaar:
Vleis en Aartappels is juis rooiwyn se stapelvoedsel tydens die rugby seisoen:
Die een ding waarop julle darem jaloers behoort te wees, is die fantastiese gehalte SA vrugte wat mens hier kry. Al die bestes word mos uitgevoer so julle sien dit nie. So WHê! (Die plaaslike geldeenheid is die Emirati Dirham en een Dirham is net meer as R2.00)
Met die skitterende „Match fixing” advertensie van Nanado’s waar hulle ‘n gratis ete aan die Mexikane belowe as hulle verloor, moet ek hulle darem ook adverteer. Daar is 2 Nando’s franchises binne afleweringsafstand van ons af.
Mens kry ongelukkig nie Suid-Afrikaanse dubbellaag toiletpapier nie maar as die nostalgie erg raak help hierdie darem:
Ons kannie sê: „Voel dit, dis hier!” nie. Maar ons kan ook sê: „Hoor dit, dis hier!” Die mense hier is baie nuuskierig oor die Vuvuraasmaak. Ek het een gekoop om vir hulle by die kantoor te gaan „musiek” maak.
Daar het onlangs nog ‘n plek oopgemaak wat my ‘n knop in die keel gee. Nou kyk, in SA sit ek slegs my voete in hierdie plek as my sussie se kleingoed verjaar. Hier gaan ek soontoe want dis amper soos om Sondag skaapboud by jou ma te gaan eet. Let op die naam in Arabies. Ons kelnerin was so ewe Thandi van Benoni. Ek het haar ook amper om die hals geval en gesoengroet.
As jy hier sit hoor jy lekker baie Afrikaans en tipiese ‘Joburg-soutie’ Engels. Toe hierdie groep by die tafel langs ons stelling inneem, het dit amper gevoel ons is by die huis.
In die mall hier naby ons is daar ‘n Medittereense restaurant met ‘n Suid-Afrikaanse sjef wat op Vrydae ‘n Boere-feesmaal bedien. Daar is osstert-potjie, bobotie met geelreis en rosyne, melktert, Jan Ellis-poeding met vla, … en as ons daarna by die huis kom is dit tyd vir:
ROOIWYN!!!